Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Sweef soos 'n arend

Bybelgedagtes - 18 Augustus 2022

  • deur spore
  • 18 Augustus 2022

Sweef soos 'n arend


Het jy nog nie God se krag in jou lewe ervaar nie? Of ervaar jy dit nie meer nie? Kan jy nie getuig van wonderwerke waarvan jy ‘n getuie was nie? As jy nie weet van kragtige maniere hoe God rondom jou werk nie, of as jy nog nooit deel was hiervan nie; dan wil ek jou vandag bemoedig en aanspoor om ‘n “Arend” gelowige te word.
Dalk het jy nodig om van voor af te leer vlieg. Van voor af blindelings op Jesus te begin vertrou vir jou situasie. Blindelings en met ‘n Hemelse perspektief weer jou dag tot dag aan te pak. Stel Hom in beheer van jou lewe, sodat wanneer jy leer vlieg, jy sal besef dat Hy jou nooit sal laat val nie. Wanneer jy geleer het om op Jesus te vertrou, sal jy begin om te wag op Sy Gees se leiding. God sal jou lei om te vlieg, om Sy strome (Gees) te volg na waarheen Hy jou wil lei.
Wat help dit as jy buite die wil van God is? Daar is geen, maar geen voordeel of nut daaraan verbonde nie. Jy is soos ‘n skip wat deur golwe en wind voortgedryf word. Jy kan nie ‘n Christen wees as jy nie die lewe wil lei van een nie. Dis soos om voor te gee dat jy ‘n vegetariër is, maar vleis eet. Hoekom nie gebruik maak wat God tot jou beskikking stel nie?
Is jy dalk bang? Wel die Satan sal jou dit genoeg probeer wysmaak dat God jou net wil straf en sodra jy jou lewe oorgee, jy geen plesier in die lewe meer sal vind nie. Hou op om in die hand van die vyand te speel. Moenie die satan glo en vertrou nie. 
Vertrou op die Here en begin sweef soos 'n arend. Maak die sprong en vertrou op God. Strek uit na wat voor is en maak los van wat na agter is. Verwag dat God getrou sal wees aan al die beloftes in Sy Woord. Hy sal jou nooit versaak nie. Soms moet jy blindelings vashou en vertrou.
Die Satan sal nie hiermee tevrede wees nie, en hy sal met “mind games”  alles in sy vermoë doen om jou weer lam te lê keer op keer. Dit verg bewustelike inspanning om die satan se aanvalle te weerstaan. Ons het net die wil nodig en volle oorgawe aan die Gees, sodat die Here se genade ons verder kan dra. Hou vas aan jou geloof. Sweef soos 'n arend en vlieg hoog met die Here se krag en genade. Ons moet strewe om “Arend” gelowiges te word.