Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Die lewe is soos 'n kunswedstryd

Bemoediging - 31 Januarie 2023

  • deur spore
  • 31 Januarie 2023

 

Die lewe is soos 'n kunswedstryd



Is die lewe nie ook maar een groot kunswedstryd nie? Een waarin ons hardloop om net elke dag êrens, iewers uit te kom. Party wil tot bo klim op hulle loopbaan se leer. Party wil net 'n goeie mamma wees. Party baklei elke dag om siekwees te wen. Party probeer net om 'n kind te wees vir U. Elke dag daag ons maar net op om weer te probeer. 

Hoe dikwels word ons nie moedeloos en moeg baklei nie. So baie gooi ons die lewe se musiek voor die Here se voete neer en fluister pleitend dat ons moeg is. Dat ons nie die baklei kan wen nie. Dat ons nêrens kom nie. Dat ons nie verder gaan probeer nie. Dan sê die Here weer sag vir ons om nog weer een keer te probeer. 
Elke dag is die Here die een wat saam met ons by die lewe opdaag. Hy is die een wat vir ons leer hoe ons elke dag moet stap. Soms kry ons dit reg en is so dankbaar vir die klein treetjies se stap in die regte rigting. Klein oomblikke van wen en oorleef. Dan vergeet ons soms ons woorde om Dankie te sê. 
Die Here los nooit Sy kinders alleen in die kunswedstryd van die lewe nie. Hy is elke dag daar om vir ons die pad te wys en voor te berei vir dit wat die nuwe dag inhou. 
Wanneer ons afdwaal of verdwaal, is die Here die Een wat die lewe vir 'n oomblik stilmaak, sodat ons Sy stem weer kan hoor.
Die Here ken elkeen van ons baie goed. Hy weet wat maak ons bang. Hy weet van elke plek waar ons struikel. Hy ken ons swakpunte en die plekkies waar ons in die lewe vashaak. En die kere wat ons by daardie swak plekkie wen, is Hy saam met ons baie bly.

 

Help my Here, help my om elke dag net vir U te kyk, want U is die Een wat vir my leer. U is die enigste Een wat die lewe se musiek ken en verstaan. U is die enigste Een wat weet hoe om aan te gaan wanneer ek stil gaan staan om te stop. Help my om nie na die lewe om te kyk nie. Help my om nie vas te kyk teen mense en situasies wat my bang en onseker maak nie. Help my om daardie deel van die lewe te ignoreer. Die deel wat kritiek uitdeel en my klein en minderwaardig laat voel. Help my om die mense raak te sien wat daar is vir my met 'n sagte woord van bemoediging, 'n bekertjie koffie, 'n blommetjie en die wete dat hulle in my glo. 

Ek wil net na U kyk. Ek wil U stem hoor, U sagte vashou voel en weet U glo in my en dat U altyd vir my lief sal wees al kom ek nêrens nie. Ek wil elke aand rustig gaan slaap met die wete dat ek môre weer gaan probeer, want U is by my. Eendag weet  ek U wag vir my by die Hemelse prysuitdeling. Om U te mag sien, Vir U te mag sing, dit gaan die grootste trofee wees wat U, die Hemel ooit vir my kan gee.