Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Wees sterk, wees vasberade

Bemoediging - 29 Mei 2022

Wees sterk, wees vasberade...

 

Wees altyd sterk en vasberade, al lyk die omstandighede hoe moeilik of onmoontlik. Moet nooit bang wees nie, want die Here jou God is altyd daar, oral waar jy gaan.

Slegte dinge gaan nog oor die aarde kom voor ons weggevat word. Die Here soek mense wat wil sterk staan, vol moed is en nie bang is nie, want as die wêreld sy kop verloor, dan moet ons die bakens van hoop wees wat staande gaan bly. Ons gaan die stuurmanne moet wees wat die stuur kan oorvat om die skip deur die storm te kry. Terwyl baie mense bang en onseker gaan wees, gaan ons die leiers wees wat dinge aanmekaar moet hou en mense na Jesus toe lei. Ons kan nie bekostig om bang te word en te twyfel nie. Daarom gryp die kleed van die Here vas en vertrou op Hom soos 'n kind sy pa vertrou, want Jesus weet wat hy doen.

Die wat hul vertroue in die Here stel, is soos die berg Sion. Dit kan nie beweeg word nie, maar bly vir ewig staan. Soos die berge om Jerusalem staan, so sal Jesus ook staan om die wat Syne is, van nou af tot in ewigheid.

Soos die water die seebodem bedek, so is die magtige teenwoordigheid van die Here oral oor op die aarde. As ons die Here aanroep in benoudheid sal Hy ons uithelp en ons moet hom eer.

Daar is soveel aanslae op God se kinders en dit is maklik om eensaam en verlate te voel. Selfs te voel of jy in 'n put geval het. Soms is dit klein dingetjies, ander kere is dit groot krisisse. Ons moet net aanhou bid en sterk staan.

Soms bid ons en dan voel dit of ons gebede nie verhoor word nie. Dit beteken nie omdat God nie dadelik ons gebed verhoor dat Hy ons nie hoor nie. Hy is deeglik bewus van ons situasie. Soms wag Hy dat dat jy jou afhanklikheid aan Hom moet erken. Ander kere is Hy besig om dinge rond te skuif  in die agtergrond omdat Sy planne vir ons veel groter is as wat ons dink of verwag het. Wanneer God vir jou 'n pad maak val alles perfek in plek. Moet nooit opgee nie. Hou vas aan God en wees verseker dat Hy altyd in beheer is.

Die woorde om sterk en vasberade te wees het soveel diepere betekenis in 'n gelowige se lewe. Dit is nie vir ons as normale mense moontlik om uit onsself sterk en vasberade in ons geloofslewe te wees nie. Die wêreld daar buite met al sy uitdagings maak dit al hoe moeiliker vir ons as Christene om sterk en vasberade te staan tov wat God se Woord van ons verwag. Die troos is dat God ons nooit in die steek sal laat nie.

Die Here maak ons sterk en vasberade in ons geloof as ons doen wat Hy sê. Ons moet vasberade en sterk staan in ons geloof, asook in alles wat ons elke dag aanpak.