Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Wat beteken dit om nederig te wees

Bybelgedagtes - 4 Oktober 2022

  • deur spore
  • 4 Oktober 2022

Wat beteken dit om nederig te wees?

God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
Nederigheid staan teenoor hoogmoed. Die Bybel is vol daarvan dat 'n Christen nie hoogmoedig moet wees nie.
As ons besef wie God is, hoe Almagtig en hoe groot Hy is, dan sal ons verseker nederig bly. Die probleem is dat ons dikwels meer van onsself dink as wat ons moet. Voor God is ons maar net Sy skepsele, die maaksels van Sy hand. Dit beteken egter nie dat ons niks van onsself moet dink nie.

Nederigheid is nie papbroekigheid nie. Dit beteken nie jy moet niks van jouself dink nie. 
Nederigheid is om met jou kop omhoog aan God al die eer te bring. Vir wie God is en ook wat Hy jou toelaat om te wees. 
Nederigheid is om jou nie hoër te ag as enige ander mens nie.

Nederigheid is om te kyk na Jesus Christus self...
Hy het Sy Hemelse bestaan verlaat om 'n mens te word. 
Hy is in 'n krip gebore.
Sy aardse pa, Josef, was 'n timmerman, nie 'n priester nie.
Sy ma was 'n jong Joodse dogter. 
Hy het sekerlik Sy pa gehelp werk as timmerman.
Hy het Sy dissipels se voete gewas. 
Hy was nie skaam om die Evangelie aan prostitute, armes en aan eenvoudige mense te bring nie. 
Alhoewel Hy ons Hemelse Koning is, het Hy op 'n donkie gery en met die voet geloop. 
Hy is saam misdadigers gereken in Sy kruisiging.

Kom ons wees dan nederig en opreg, maar dankbaar omdat ons kinders van God is. Kom ons gee altyd aan God die eer wat Hom alleen toekom.

Jesus was en is tot vandag toe ons enigste en perfekte voorbeeld waarvolgens ons moet leef en wandel. Hy was altyd nederig en behulpsaam. Die tyd toe Jesus hier op die aarde gewandel het, het Hy nie tussen ryk en gesiene mense gebly nie. Menigte nagte het Hy nie eens 'n plek gehad waar Hy tot rus kon kom nie. Van Jesus se geboorte af sien ons Sy nederigheid en sagmoedigheid. Selfs Josef en Maria het nie hoogmoedig geword omdat Jesus as baba in hul sorg toevertrou was nie.