Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Genade

Bemoediging - 22 April 2022

  • deur spore
  • 27 April 2022

Genade

Die Here se genade is so baie vir ons. Ons beleef dit elke dag op soveel maniere.
Ons beleef elke dag soveel dinge wat alles dui op genade. Ons besef nie hóé dankbaar en bevoorreg ons is nie.
Om elke nag te kan gaan slaap en weer te ontwaak die volgende môre. Om iets te hê om te eet. Dit is genade.
Om iemand lief te hê en om lief gehê te word. Om liefde uit te straal laat ook die Here se lig uit ons skyn.
Om aanvaar te word deur die mense om ons is genade. Hoeveel mense gaan nie eensaam en alleen deur die lewe nie. Aanvaar daardie persoon om jou, sodat
 hy of sy ook die genade kan beleef.
Om elke dag te kan gaan werk en te verdien is genade. Daar is soveel wat nie die krag, wysheid of voorreg het om te kan werk nie.
As ons iets aaklig beleef of deur 'n krises moet worstel, is dit ook net genade van die Here wat ons die krag gee en daardeur dra. Die Here is elke dag by ons.
Hy is genade.
Sien ons nog die Here se teenwoordigheid in ons alledaagse?  Hy wil vir ons die goeie gee. Die dinge wat ons baie keer as vanselfsprekend aanvaar, is alles genade.
Dit is alles te danke aan Sy groot genade. Die Here  het ook gesê dat Hy my en jou nooit sal verlaat nie. Dít, op sigself, is genade. Die Here is genade.
Genade kan ons nie koop of voor werk nie. Ons kan dit net kry. Sonder enige voorwaardes.