Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Suiwer genade

Bybelgedagtes - 25 Julie 2022

  • deur spore
  • 25 Julie 2022

Suiwer genade

Ons verwag soms van God om ons met baie voorregte toe te rus. Sommige wat ons weerloos kan laat teen die bose. Die Here sal ons altyd die nodige gee. Hy sal ons ook nie sonder krag aan die woeste genade van die lewe oorlaat nie. Hy het dit nog nooit met een van sy kinders op hul lewensreise gedoen nie. Al was dit soms pynlike roetes gewees. God was nog altyd teenwoordig en waak dat ons toegerus is met alles wat goed is. Alles wat in ons vermoë is om dinge te kan hanteer. As ons Sy wil doen, die wil van God, sal Hy ons koersvas lei. Hy sal vir voldoende voorrade sorg. Ons altyd veilig hou. 

Dit is dikwels by ons 'n groter kwessie en bekommernis oor hoeveel ons het, of nie het nie, as ons bekommernis oor ons liefde vir God. Dit is menslik want ons is bang ons beland in 'n geldelike moeras van tekorte. Maar God sorg vir ons as ons hom eer. Hy sorg ook vir insig en wysheid met ons besittings. Hy beloof geen rykdom nie, maar nabyheid en genoeg vir elke dag vir die wat hom eerste stel. 

Dit is baie menslik om 'n guns of daad van goedheid terug te wil betaal. Meestal om weer balans in ons gemoed te kry. Meeste van ons gee graag, maar wil nie iets terug ontvang nie. Ons moet leer om met grasie te ontvang. Die liefde en guns van God is onvoorwaardelik. Om in groot dankbaarheid Sy guns te aanvaar, is in God se oë die grootste vorm van terugbetaal. God verwag net  opregte dankbaarheid. Hy weet ook dat ons nooit in staat sal wees om Hom werklik te vergoed nie. Alles wat ons het en ontvang is slegs suiwer genade van God.