Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Herinneringe is baie kosbaar

Bemoediging - 27 Junie 2022

  • deur spore
  • 27 Julie 2022

Herinneringe is baie kosbaar.

Baie van ons bewaar alles. Van stukkies en brokkies; goedjies en gemorsies. Tog het elke item soveel nostalgiese waarde dat jy dit nie kan of wil weggooi nie.

Die enigste ding in die wêreld wat nooit kan sterf nie, is mooi herinneringe en daar is soveel van in ons lewe.

Herinneringe is soos 'n goedgebruikte padkaart. Dit vertel die storie van ons lewensreis. “n Herinnerings-houer is 'n goeie manier om hierdie reisverhaal sigbaar en tasbaar te maak. Daardie handgeskrewe briefies, 'n foto, 'n spesifieke reuk en daardie spesiale liedjie. Dit is alles deel van die mooi gebeure in die verlede. 

Op 'n manier skep mooi herinneringe 'n plek waarheen jy kan teruggaan in gedagtes wanneer jy verlore voel. Dit anker jou sodat jy in moeilike tye weer veilig en geborge kan voel. 

Dan is daar ook herinneringe wat pyn in ons harte veroorsaak en nie alle herinneringe is positief nie. Ons kan nie noodwendig die hartseer oomblikke keer of kies nie. Tog kan ons baie doen om mooi en kosbare herinneringe te onthou. Ons moet doelbewus besluit om ons geheuebank met kosbare herinneringe te vul.

As jy aanhou om die pynlike gebeure te herleef, kan dit jou liggaam en geestelike gesondheid beïnvloed. Probeer om van die seer te vergeet en net die mooi en gelukkige tye te onthou.

Die ander herinneringe van vreugde, lag, warmte, vriendskap, plesier, liefde, romanse en geestelike ervarings is baie goed om te onthou. Herinneringe is die innerlike foto’s wat jy kies om saam met jou die toekoms in te dra. Kies die mooi en gelukkige herinneringe om in jou hart saam te dra vir altyd.