Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Vergifnis

Bemoediging - 18 Mei 2022

Vergifnis...

Hoekom is dit soms so moeilik om iemand te vergewe? Ek verwag tog dat God my skulde moet vergewe. Ek bid en vra die Here moet my sommer net vergewe. Dit terwyl ek  nie altyd 'n ander se verskoning wil aanneem nie.
Soms is dit uit blote vermaaklikheid.  Dalk omdat ek nie wil erken dat ek dalk self ook verkeerd was, of dalk ook  'n aandeel in die onenigheid gehad het nie. Dalk wil ek net nie jou verskoning aanvaar omdat ek nie kans sien om jou te vergewe nie.
Vergifnis vra meer as jammerte. Dit vra ruimte uit die hart. Net so moedig ek moet wees om vergifnis te vra, net so moedig moet ek wees om 'n ander se jammer te aanvaar en te vergewe.
Soms moet ek my sondelas in Gebed uit worstel voor die Here. Ek moet my foute erken en bely en die Here vir vergifnis smeek. Soms is dit ook nodig om myself te vergewe, ek is ook maar net ‘n mens wat foute maak.
Geld kan afgeskryf word, maar wonde in die hart laat merke. Woorde en dade kan baie seer maak. Net so kan woorde en dade weer 'n glimlag in iemand se hart sit as ek hom vergewe.
Die Bybel leer dat onselfsugtige liefde die grondslag is vir ware vergifnis, want liefde hou nie boek van die kwaad nie. Onthou as God ons kan vergewe, kan ons mekaar ook vergewe.
As ons vergifnis van God ontvang, moet ons dit aan ander gee wat ons seergemaak het. Ons kan nie 'n wrok of wraak neem nie. Ons moet God vertrou vir geregtigheid  en die persoon vergewe wat ons beledig het. Dit beteken egter nie dat ons dit moet vergeet nie. Vergifnis beteken om die ander persoon los te maak van die skuld , die gebeurtenis in God se hande te plaas.
Om iemand te vergewe laat ook 'n gevoel van bevryding by jou. Wanneer ons kies om nie te vergewe, word ons slawe van bitterheid. Daarom is dit beter om te vergewe as om in bitterheid te leef.

Here help my, want dit is soms bitter moeilik om te vergewe.