Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Die toekoms

Gebede - 31 Januarie 2023

  • deur spore
  • 31 Januarie 2023

 

Die toekoms


Ek kyk terug op die pad waarlangs U my gebring het tot op hierdie oomblik. Ek dank U vir elke tree daarvan en elke ervaring. Deur dit het U my liefgehad met 'n ewige liefde. Vir blydskap en droefheid, vir vreugde en smart, vir skaterlag en trane. Vir stilte en vir die lied daarvoor dank ek U o Heer. Dankie vir die geloof in my hart. Dat U wat gister gelei het, dit môre ook sal doen. Die toekoms is immers in U hand.
Here bring asseblief U seën oor my. Laat U wil die rede wees vir my bestaan. Gee vir my innerlike vrede en laat ek besef U is Vreugde. Help my om met 'n glimlag deur my dagtake te werk. Here maak my deugsaam. Iemand wat bly by wat goed en reg is. Wat vreugde vind om in die lig te lewe en die donker vermy.
Here, U liefde en wonderdade ken geen perke nie. Stuur U woorde om in my mond te kom lê. Gee vir my sagte woorde om vir ander te sê. Here raak U my hande aan en maak dit sterk. Gee dat ek ander sal help en uitreik na hul wat dit nodig het. 
Here laat U liefdeskleed ook in my oë skyn. Gee dat ek U liefdedade verkondig. Gee ook dat ek ander se pyn sal sien en by hul sal staan. Here woon in my hart en maak my rustig. Gee dat ek met 'n sagter hart na ander se probleme kyk. Dankie Here dat U die pad saam met my loop.