Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Lewe in die lig

Bemoediging - 31 Januarie 2023

  • deur spore
  • 31 Januarie 2023

 

Lewe in die lig

 

Lewe in die lig. 

Die lewe is werklik 'n reis. Soms kom ons te staan voor draaie, stilhou plekke en vurke in die pad en dan het ons Goddelike leiding desperaat nodig. Wanneer ons midde in hierdie besluitelose oomblikke in ons lewens is, moet ons ons deel doen om God se wil op te soek. Die woord van God is daar om vir enige omstandighede te kan benut deur dit te lees, bestudeer en te bepeins. Verder voorsien God Sy kinders van die Heilige Gees om ons aangaande ons lewensdoel, plan en opdrag in alle waarheid en openbaring te lei. Soms wys Hy ons nie die hele prentjie van ons lewe nie, maar slegs een ligpuntjie op 'n slag. Wanneer jy werklik raadop is, onthou dan dat die Woord van God die lig is wat jou lei en jou pad verlig.

Wanneer donker wolke om jou vou, is 'n sterk hand altyd by jou. Laat Hy jou lei na waar Hy wil. Deur groen velde en stil waters. Hou styf vas aan Sy liefdevolle hand en weet, Hy is altyd aan jou kant in alles wat oor jou pad mag kom. Jy kan altyd op Hom vertrou. Geen aardse pyn is ooit te veel as God dit weer met Sy aanraking heel. 

Jesus vra maar net dat ons daagliks ons beste sal lewer en die pad getrou agter Hom sal aanloop. Vir die res leer Sy Woord ons, sal Hy sorg. Hy sal die uitkoms van alle dinge bepaal. Hy sal daar wees wanneer dit met ons moeilik gaan. Hy sal ons vashou wanneer die stormwinde ons wil omslaan. Hy sal die beste laat gebeur. Hou vas aan die lewe. Hou vas aan hoop. Hou vas aan God. Op 'n dag sal die lig weer skyn.

"Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand."

"En Jesus het met hulle gespreek en gesê: "Ek is die lig van die wêreld: wie my volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê."

Here help ons om getuies van U lig te wees.