Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Geloof is 'n genadegawe

Bemoediging - 18 Augustus 2022

  • deur spore
  • 18 Augustus 2022

Geloof is 'n genadegawe

Het jy al ooit daaraan gedink dat selfs ons geloof 'n genadegawe van die Here is. Mense woorde kan die weg aanwys, maar die geloof moet van God kom. 
Wonderwerke het nie net in die Bybel se tyd gebeur nie. Dit gebeur steeds  en sal ook nog gebeur.  
Ook vir ons doen Hy goed. Hy kan vir 'n siel wat droogte lei, weer 'n helder stroom genade voorsien. 
Ons mag nie by die verlede vashaak nie. Ons moet ons losmaak van dit wat verby is en uitstrek na wat voorlê. Elke dag is nuut, met nuwe geleenthede. Nuwe ervarings, nuwe vreugde en ook nuwe laste. Ons kan nie gister en eergister se laste en bekommernisse die toekoms indra nie. 
Soms ervaar ons 'n gevoel van afstomping, om in 'n groef te verval. Die keuse is joune. Dit hoef nie so te wees nie. Elke dag wat die Here gee is nuut, onontgin. ‘n Nuwe geleentheid vir 'n nuwe dag of begin.
Die Here laat ons verander en vernuwe. Ons moet Hom vertrou en saam Hom werk. Die pad saam Hom is nuut en opwindend.
Die beloftes van God is oorweldigend en allesomvattend. Aan almal wat Hom dien, beloof Hy 'n nuwe toekoms. Ons moet Hom net vertrou, in Sy almag bly glo en die gebod van Sy liefde uitleef. 
Hy skryf Sy woord op ons harte en lê dit in ons gedagtes vas. Hy kan ons oortredinge vergeef en sal daarna nooit weer aan ons sonde dink nie. 
As dit nie vir die liefde van die Here was nie, sou ons nie een oomblik kon bestaan nie. 
Dit is wonderlik om in die oggend wakker te word met die eerste gedagte “Jesus het My lief”. Hy gee my 'n nuwe dag. Ek lewe! Ek het nog 'n geleentheid en tyd om reg te maak wat verkeerd is in my lewe. Ek kan nog my liefde vir God en my naasteliefde uitleef. Ons kan nie 'n nuwe dag begin sonder om ons Skepper te loof nie. 
Wie innerlik gebroke is en nie die nuwe dag in die oe wil kyk nie, kan seker wees van God se genade en eindelose goedheid. Daar is geen einde aan Sy ontferming nie. Hy sal ons altyd weer moed gee om aan te gaan met die lewe.
As ons gesindheid teenoor God reg is, kom die gesindheid onder ons mense ook reg. Wanneer ons die Here as ons enigste Meester aanneem, word ons bewus van ons sonde en stry ons daarteen. Die gesindheid spreek dan uit ons woorde en dade wat in ons gedagtes gebore word. Eintlik spreek die Here dan self deur ons gedagtes, woorde en dade. Ons staan klein en afhanklik voor God.
Die Here is elke dag in ons lewens. Hy loop elke dag saam met ons die pad, al kan ons Hom nie sien nie. 
Hy maak 'n ou sondige lewe weer nuut en skoon. 
Om God te ken, is om Hom te vertrou. Al kan ons Hom  nie sien nie. Egtheid van geloof kweek hoop en die hoop beskaam nie. 
Ons moet aanhou na die Here kom. Die Woord is die enigste ware voedsel waardeur die gelowige kan groei en sterk bly in die geloof. 
God wil nie net ons omstandighede verander nie. Hy wil ons voortdurend vernuwe.