Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Wat is 'n moeder

Bemoediging - 29 Junie 2022

  • deur spore
  • 29 Junie 2022

 

Wat is 'n moeder?


Om 'n moeder te wees is 'n baie belangrike rol wat die Here gekies het om aan baie vrouens te gee. Kinders is 'n gawe van God. Moederskap moet nooit as harde werk gesien word nie. Dit is 'n voorreg om deur God gekies te wees om 'n ma te wees.

'n Ma moet haar kinders nie net onvoorwaardelik liefhê nie. Sy moet vir hul omgee en versorg. Betrokke wees by hul opvoeding en doen en late. Sy moet hul leer van dissipline en selfversorging. As hul faal in iets moet haar onvoorwaardelike liefde en aanvaarding hul weer ophelp. Sy moet hul leer van die Here en in sy weë opvoed. ‘n Moeder moet in haar lewe 'n voorbeeld stel vir haar kinders.  

‘n Ma is gemaak van liefde en baie staal om haarself teen die onsigbare houe te skans. 'n Ma se vel is seker lekker dik, want sy steur haar min aan tiener buie en geite. Sy weet ook tieners bedoel selde wat hul sê en sê selde wat hul regtig bedoel. 'n Moeder is gemaak met ekstra wysheid, oorvloed geduld, en 'n hand vol genade.

'n Mamma se hart is groot. Daar is altyd plek vir nog een. Sy kan selfs 'n ander mamma se kinders liefhê. 

'n Mamma sal haar kinders ten alle koste beskerm en veilig hou. Sy bid vir hul van hul gebore is totdat hul eendag groot is. Al word jy hoe oud, jy sal altyd jou moeder se kind bly. Onthou elke ma was ook op 'n tyd 'n klein dogtertjie en daarna 'n tiener. Sy sal ook onthou dat sy selfs soms bang en onseker was en ook net die liefde en aanvaarding van haar ma nodig gehad het.

Soms bly daar niks anders oor vir 'n mamma om te bid vir wysheid en insig. Die Here stuur vir haar vanuit Sy skatkamers die krag, wysheid en geduld wat sy so nodig het. Mammas is ook soms onseker en bang. Sy het nie altyd al die regte antwoorde en wysheid in pag nie. 

Soms voel sy ook oormoeg en moedeloos, maar nooit vir lank nie. Soms breek haar hart en huil sy saggies waar haar kinders haar nie kan sien of hoor nie. Sy weet egter dat die Here haar trane sien en haar weer die krag gee om aan te gaan om 'n moeder te wees. 'n Ma is nie volmaak. Sy is ook maar net 'n mens. Sy maak ook foute en daarom kan sy ook sê ek was verkeerd. Ek is jammer. Vergewe my. 

'n Ma is selde nie besig nie. Daar is altyd nog iets om te doen. Sy word ook nooit moeg om goed te doen nie. 
'n Ma hou nie daarvan om na haar kinders se verskonings te luister nie, maar sy is die ene wat vinnig namens haar kinders by ander sal verskoning maak.
‘n Ma kan baie dinge in een wees: berader, huurmotor, kitsbank, aanmoediger, noem maar op en dit sal sy wees.

'n Ma is so ingestel op haar kinders, groot of klein, dat sy die seer of emosies in hul oë kan raaksien lank voordat die hartseer trane en teleurstelling sal uitkom.

Soms beleef 'n ma ook hand in die hare oomblikke en sy voel alleen ten spyte van die rumoerigheid in die huis. Dis dan wanneer God haar veilig in sy arms toevou en haar verseker sy is goed genoeg. Daar is tye wat 'n ma so bekommerd is oor haar kinders dat sy in 'n oomblik ouer en grys kan word. Elke ma beleef maar oomblikke waar sy afhanklik is van die Een wat haar gemaak het. Soms as jy mooi kyk kan jy sien hoe skitter die glans van die Hemel uit haar oë. Soms sal jy hoor hoe sy saggies met Hom praat. Kompleet asof Hy langs haar staan. Daar is baie genade uit die Hemel vir die ma’s wat 24 uur per dag aan die gang is. 

'n Ma deins nie terug vir groot uitdagings nie. Sy pak dit aan en doen wat sy moet doen omdat sy kan. Sy is 'n ma wat weet waar haar daaglikse brood en krag vandaan kom. Die mooiste deel van ma wees is om te weet sy hoef nie ver te gaan soek na die Here nie. Hy is altyd daar by haar. Tussen die vuil wasgoed  en skottelgoed wat nooit opraak nie. Hy kom ontmoet 'n ma sommer net daar waar sy is. Weet net dat daar in elke ma se hart 'n klein dogtertjie is wat ook smag na haar eie ma. Veral wanneer die lewe haar voete onder haar uitskop en sy weerloos en alleen op die klipharde grond bly lê. Dit is wanneer elke mamma net boontoe kan kyk en die Here haar weer krag gee om aan te gaan en vir  haar kinders lief te wees. 


Dankie vir al die mamma's en al die liefde wat jul onvoorwaardelik oor ons uitstort.