Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

As God Vir my is

Bemoediging - 20 Junie 2022

  • deur spore
  • 20 Junie 2022

As God Vir my is...

As God vir my is, wie kan teen my wees. 

Dit is baie kosbare woorde vir die tyd waarin ons leef en dit dra my deur elke dag.  Daar is so baie teenstand in die opregte kinders van die Here se lewens. 

Wanneer dit voel asof daar geen antwoorde of oplossings vir my situasie is nie, dan kan ek net op my knieë gaan en dankie se vir die Here dat Hy daar is vir my.  Moenie bang wees of angstig rond kyk nie. Die Here is in elke situasie saam met my en jou. Niks wat met ons gebeur is sonder Sy medewete nie. Alles is wel nie altyd met God se goedkeuring nie, maar hy laat dit tog toe.  Die Here is nie blind vir wat met ons gebeur nie. Hy sien meer raak as wat ons besef. Hy sien en weet immers alles.  Ons leef in 'n sondige wêreld en die satan loop rond en kyk wie kan hy verskeur.

Moet jou nie bekommer oor more nie. More sorg vir homself. Soos Hy vir die voëls en diere van die veld sorg, so sorg Hy vir ons.

Die Here sal nooit iets oor ons pad laat kom wat bo ons kragte is, of ons alleen laat nie. Gaan skuil net by die Here. Hy gee krag aan die wat vermoeid en belas is.  Hou aan glo, want sonder geloof het Sy werke geen krag nie. God se genade is genoeg om ons deur elke dag te dra. 

Onthou die wraak kom net God toe en nie vir my en jou nie. Wees nie bitter teenoor die wat jou te na kom nie. Vergewe hulle wat hulle aan jou doen. Moenie jou siel vergiftig met wraakgedagtes nie. Fokus net op Hom. Bring al jou hartseer na Hom en Hy sal dit genees en rekenskap eis van die wat teen jou gesondig het. 

Wees stil en laat die Here toe om te doen met jou soos Hy vir jou wil doen. Buig voor Hom in aanbidding en lofprysing, dan sal Hy jou verhoog op Sy tyd. Wees stil en weet Hy is die Heer. Hy is in beheer van my en jou lewe. 

Dankie Here dat U altyd die beste weet vir my.