Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

Wees nie bevrees nie

Bybelgedagtes - 25 Julie 2022

  • deur spore
  • 25 Julie 2022

Wees nie bevrees nie


Vrees is 'n bekende gevoel wat die meeste van ons die een of ander tyd beleef. Vrees is soos 'n vrieswind. Dit is soos 'n siekte wat vreet. Vrees is een van die magtigste wapens wat die satan in sy hande het om die mens te laat twyfel en te laat verflou in sy geloof.

Die woord van die Here gee ons as gelowiges een groot troos. Hy sê dit baie duidelik op menige plekke in die Bybel dat ons nie hoef te vrees, of bang hoef te wees nie. As die Here by my is hoef ek nie te vrees nie. Die Here is by my en Hy help my. 

Om nie te vrees nie verg ware geloof. 'n Vaste vertroue in Hom wat ons nie kan sien nie. Die werking van die Heilige Gees verseker ons van Sy daaglikse teenwoordigheid in ons lewens. Hy verseker ons dat daar nie 'n haar van ons hoof sal val sonder Sy wete nie. As 'n haar wat vir ons so min beteken vir Hom belangrik is, hoeveel te meer is ns elke dag se bestaan en ons lewens nie. Hy verseker ons ook deur Sy woord van Sy alomteenwoordigheid in elkeen van Sy uitverkore kinders se lewens. 

Kom ons hou vas aan al sy beloftes in Sy woord en ons bid dat Hy ons daagliks sal sterk. Ons moet op Hom vertrou met ons hele hart, siel en verstand .  Met al ons krag, met ons hele menswees. Laat die wêreld sien dat ons 'n lewende God aanbid. Moenie dat vrees veroorsaak dat die wêreld  dink ons aanbid 'n dooie God nie. Ons het 'n roeping en moet  so lewe dat ander kan sien ons hoef nie te vrees nie, want God is altyd by ons. Ons moenie vrees nie. Ons verniel onsself daardeur. Soms vrees jy dinge wat nooit gaan gebeur. Dit steel net jou blydskap. Gee jou bekommernisse aan die Here. Hy het nog altyd gesorg.


Dankie Here vir die vrede wat u aan ons gee sodat ons nie hoef te vrees nie.