Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)


 

'n Tyd van seën

Bemoediging - 8 Augustus 2022

  • deur spore
  • 8 Augustus 2022

'n Tyd van  seën

 

Siekte kan ook 'n tyd van seën wees vir 'n sieke. Daar kan jy vele gedagtes ontdek. 

  • God het altyd 'n  genesende hand in ons lewens.
  • God is die verhoorder van ons gebede.
  • God gee altyd die volmaakte vrede wanneer ons dit nodig het.
  • Die Here troos ons in siekte en moeilike tye.
  • Stel jou vertroue altyd in die Here, in goeie en slegte tye.
  • Die Almagtige gee altyd ondersteuning in elke situasie.
  • God het volmaakte genade vir ons.
  • Die Here se onvoorwaardelike liefde is altyd daar vir ons. 

Op die een of ander tydstip kry elkeen van ons te doen met siekte. Of ons word self siek, of 'n vriend of familielid word ernstig siek. Dan gaan ons gedagtes na God van wie die genadegawe van gesondheid kom. Dan wonder ons ook hoekom moet die siekte ons oorkom. Die vraag wat so dikwels gevra word is hoekom laat God dit toe. Die een groot antwoord daarop is dat God altyd Self langs ons siekbed teenwoordig is.  Hy laat ons nooit alleen. Nie in goeie, slegte tye of siekte nie. Dié wete is dikwels ons enigste troos.

Ons is ook blootgestel aan gevare, siektes, pyn en teleurstelling. Waarheen sal ons gaan in dié tye vir beskerming? Na ons ewige rots en redder, Jesus Chrustus. Hy weet wat ons behoeftes is en is altyd met ons as die lewe dreig om vir ons te veel te word. Siekte, pyn en bekommernis sal my nie vernietig nie, want Hy is my Beskermer en Skuilplek. Met ons geloof in die Here sal ons die vermoë hê om uit te styg bo elke beproewing, of siekte en weer God se genade ervaar. Met die geloof kan ons elke situasie hanteer; seker weet dat die Here ons die nodige krag sal gee. Die wete gee ons die sielerus en krag om voort te gaan. 

Siekte en lyding is die gemeenskaplike lot van die ganse mensdom. Daarom verstaan ons almal pyn en lyding. Ons simpatiseer wanneer nodig, al moet ons soms hulpeloos toekyk. Magteloos om regtig te help. Aan elkeen wat lei agv siekte of ongeluk, kom 'n liefdevolle God met die belofte van hulp en moontlike genesing. Dit is ons troos dat Hy as ons Skepper belangstel in ons liggaamlike welsyn. Ons vra dikwels hoekom dinge met ons gebeur. God wat alwetend is, lei ons op verskillende paaie om ons uiteindelik te seën.

Dit is nie maklik om te sê : laat U wil geskied, o Heer!” en om dan met onstuitbare geloof  Sy wil te aanvaar as altyd die beste vir jou nie. Ons kan egter daarvan seker wees dat God vir Sy kinders sorg. Gebed is 'n persoonlike gesprek tussen die almagtige God en nietige mens. Ons kan ons diepste lewensgeheime met Hom deel en vertrou dat Hy sal verstaan. Hoe wonderlik is dit dat God self aan ons die versekering  gee dat Sy ore vir ons oop is wanneer ons tot Hom bid. 
Baie keer voel dit ons gebede word onbeantwoord gelaat. God is stil. Of is Hy? Nee, God is nooit stil nie. Hy stel soms Sy antwoorde uit om ons geloof te toets en om ons geduld te beproef. Hy wil hê ons gebede moet meer as blote noodoproepe tot Hom wees. Hy wil ons soms wys op 'n geheime sonde in ons lewe en wil ons tot berou en belydenis lei. Hy wil ons soms wys op ons afdwaling en geestelike agteruitgang. Hy wil ons leer dat ons nie sonder Jesus Christus deur die lewe kan gaan nie. Anders sal ons lewe in wanhoop eindig. Selfs al lyk dit vir ons of God stilbly, moet ons gelowig aanhou bid en vertrou. 

Om aan te pas by 'n situasie wat ons nie kan verander nie is partykeer baie moeilik. Dit is nie maklik om in verwarrende of haglike omstandighede dinge maar net te aanvaar en die beste van te maak nie. Veral as onsself nie daarvoor verantwoordelik is nie. Ons moet leer om sulke situasies met geduld en liefde te hanteer. Gemoedsrus word verkry deur gebrek te ly en ten spyte daarvan nog jou oorblywende seëninge te tel. 

God laat ons nie altyd die grootpad van sukses bewandel nie. Soms laat Hy ons in ons spore tot stilstand  kom en dwing ons om na te dink oor waarheen ons op pad is. Is ons nie moontlik besig om ons verhouding met Hom te verwaarloos nie? Dring ons nog aan om die pad te stap wat ons self op besluit het? Weier ons nog steeds om God bo aan ons lewens agenda te plaas? Soms klap God die deur na buite toe, sodat Hy alleen met ons kan wees om oor die dinge van die ewigheid te praat. Oor vrede, vergifnis, gebed, aanbidding en ons ewige tuiste. Hy trek 'n streep deur ons beplanning en plaas ons dalk op 'n siekbed. Waarom? Om ons te laat verstaan dat die lewe uit meer as net goeie tye bestaan en dat ons roeping nie alleen is om aardse besittings bymekaar te maak nie. God wil hê dat ons ons lewe herevalueer , dat ons die les van stilstand en heroorweging van ons lewenswaardes moet leer.